Die Masoretiese teks (MT of 𝕸; Hebreeus: נֻסָּח הַמָּסוֹרָה Nūssāḥ Hammāsōrā, "Teks van die tradisie") is die gemagtigde Hebreeuse en Armeense teks van die 24 boeke van die Hebreeuse Bybel. Dit definieer die Joodse kanon en die presiese letterteks daarvan, met sy vokalisering en aksentuasie bekend as die masora. Met verwysing na die Masoretiese teks beteken masora spesifiek die diakritiese tekens van die teks van die Hebreeuse Skrif en die presiese kantaantekekeninge in manuskripte van die Bybel wat teksdetail aandui, gewoonlik oor die presiese spelling van die woorde. Dit is hoofsaaklik tussen die 7de en 10de eeu n.C. oorgeskryf, geredigeer en versprei deur 'n groep Jode bekend as die Masorete. Die oudste bekende volledige afskrif, die Leningradse Kodeks, dateer van die 11de eeu n.C.
Die verskille in sommige Dooie See-rolle dui daarop dat verskeie weergawes van die Hebreeuse Bybelboeke reeds bestaan het teen die einde van die tydperk van die Tweede Tempel.[1] Watter teks die naaste aan 'n teoretiese "oerteks" is, word betwis – ook of so 'n enkele teks ooit bestaan het.[2]
Die Dooie See-rolle, wat tot van die 3de eeu v.C. dateer, bevat weergawes van sommige van die tekste wat aansienlik verskil van dié in vandag se Hebreeuse Bybel.[3][1] Die Septuagint ('n vertaling in Koine wat in die 3de en 2de eeu v.C. gemaak is) en die Peshitta ('n Siriese vertaling uit die 2d eeu n.C.) verskil soms aansienlik van die Masoretiese teks – en so ook die Samaritaanse Pentateug, die teks van die Tora wat in Samaritaanse Hebreeus deur die Samaritane bewaar is.[4]
Die Masoretiese teks is die basis vir die meeste Protestantse vertalings van die Ou Testament. Sommige Christelike denominasies verkies egter vertalings van die Septuagint, omdat dit ooreenstem met aanhalings uit die Nuwe Testament.[5]